Maart Hoogtepunte: kykNET-Kanale

‘n Splinternuwe dramareeks, ‘n lekkerlag-fliek en ‘n nuwe eenmanvertoning van die komedie-ikoon Marc Lottering is net ‘n paar van die Maart-hoogtepunte op die vier kykNET-kanale.

Plan B | Splinternuwe moeilikheid en drama op Dinsdae

Dit het al die elemente van ‘n trefferreeks. Karakters gebore in die verbeelding van topverkoper-misdaadskrywer Deon Meyer. ‘n Draaiboek deur die bekroonde Tertius Kapp. Jozua Malherbe in die regisseurstoel en van die land se top-akteurs voor die kameras.

Plan B vertel die verhaal van ‘n man met ‘n militêre agtergrond, Ivan Malan (Tim Theron), en sy vennoot, Paul Schmidt (Arnold Vosloo), wat die Vlammemeisie, ‘n skildery deur die meesterskilder Vermeer wat €30 miljoen werd is, by ‘n bendebaas steel. Intussen word Ragel Bergh (Amalia Uys) deur die glyjakkals Joshua Lansky (Armand Aucamp) uit haar erfporsie geswendel. Alles lyk vir haar verlore tot die kunswaardeerder Ragel, Ivan en Schmidt se paaie laat kruis en al drie van hulle dieselfde ding wil hê: die Vlammemeisie.

Ander spelers sluit in Rolanda Marais, Dorette Potgieter, André Jacobs, Sobantu Nqayi, Wanda Banda, Roberto Kyle en Anrich Herbst.

Plan B het hope aksie, maar daar is net soveel humor. Dit word beskryf as ‘n caper – ‘n genre waar misdaad betrokke is, maar avontuur, kwinkslae en slimstreke dit ligter maak.

Plan B, wat in en om Kaapstad verfilm is, bestaan uit vyf episodes. Die eerste episode word Dinsdag 26 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod | Terug vir tweede ‘n seisoen

Sy het gewonder hoe hulle die eerste seisoen gaan oortref, maar Bonné de Bod sê sy glo die tweede seisoen van Bewonder en bewaar is net so spesiaal. Die nuwe seisoen begin op 24 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), en as gevolg van ‘n groot aantal versoeke, word dit met Engelse onderskrifte uitgesaai.

“Daar is verskeie eerstes. ‘n Amper naakte wetenskaplike wat soos Bobby van Jaarsveld lyk in die Namib-woestyn, die dophou van wolwe in die Yellowstone Nasionale Park (die eerste nasionale park in die wêreld), en om baie naby aan ‘n grizzly-beer in die Grand Teton Nasional Park te kom,” sê Bonné. “Ook plaaslik om saam met SAN-parke se hoofvlieënier op ‘n moeilike wildvang-ekspedisie te gaan terwyl hy ‘Oh, what a beautiful morning’ sing.”

Bewonder en bewaar met Bonné de Bod begin op 24 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

In Die Sop | Help restaurante ‘n derde keer uit die sop

Met die derde seisoen van kykNET se werklikheidsreeks In die sop: Restaurant-evolusie word daar van die Kaap tot die Karoo en Weskus – en ‘n eerste keer ook in Gauteng – nuwe lewe in verskeie restaurante geblaas. Hierdie seisoen bevat nog ‘n nuwigheid in die vorm van ‘n liefdadigheidsprojek wat die skep van meer huislike ruimtes in ‘n kinderhuis ten doel het.

Die possak het behoorlik gekreun met meer as 400 inskrywings van restauranteienaars dwarsoor die land. Dit het die bekroonde glanssjef Bertus Basson, dekorkenner Misi Overturf en hul span deskundiges behoorlik laat kopkrap oor watter deelnemers om te kies.

Soos met die vorige seisoene is hul grootste uitdaging die stryd teen tyd, want hulle het net 72 uur om ‘n restaurant reg te ruk en ‘n nuwe gedaante te gee. En dit verg veel meer as net ‘n besem en ‘n skoppie en ‘n leksel verf.

In Die Sop begin 6 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Onthul: SANW | Suid-Afrika se verdedigingskrisis

Geen moderne staat kan sonder ‘n funksionerende weermag klaarkom nie. Daar is grense om te bewaak en binnelandse bedreigings om te help bekamp.

As lid van die Verenigde Nasies (VN) en die Afrika-Unie (AU) moet ‘n land soos Suid-Afrika boonop gereeld troepe en toerusting beskikbaar stel vir vredesendings in sommige van die vasteland se mees konflikgeteisterde gebiede.

Maar is die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) werklik nog in staat om sy plaaslike en internasionale pligte na te kom? En hoe voorbereid is ons weermag, vloot en lugmag vir die ondenkbare – ‘n aanval op Suid-Afrika deur ‘n buitelandse aggressor, hetsy ‘n terreurgroep of selfs ‘n ander moondheid?

Van die deelnemers aan hierdie nuusdokumentêr is Pikkie Greeff, nasionale sekretaris van die weermagunie (SANWU), Abel Esterhuyse, verbonde aan die fakulteit krygskunde by die Universiteit Stellenbosch, en Erika Gibson, joernalis.

Onthul: SANW – Suid-Afrika se verdedigingskrisis word op 17 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Die 14de kykNET Fiësta-Toekennings

Op 7 Maart word die Fiësta-toekennings in Kaapstad uitgedeel. Die kykNET Fiëstas bekroon die beste werk wat in die vorige jaar by die land se ses grootste vervaardigende Afrikaanse kunstefeeste – Innibos, KKNK, Momentum Beleggings Aardklop, Suidoosterfees, Toyota US Woordfees en Vrystaat Kunstefees – aangebied is. Dié geleentheid, waar die legendes Tobie Cronjé en dr. Ismael Mahomed vir hulle lewenswerk vereer word, word nie regstreeks uitgesaai nie, maar Bravo! en Fiësta sal daar wees om kykers in al die glans van die aand te laat deel.

Sepies & Telenovela

Binnelanders

Annetjie is smoorverlief op ‘n dokter. Bonnie stoomroller ‘n kollega, en die gevolge is nié goed nie. Tracy maak haar hart teenoor Lukas oop. Tertius vind uit van Conrad en At se nuutste veldtog teen hom, en die hele Binneland is in rep en roer wanneer iemand verdwyn.

Tertius ontvang ‘n onverwagse besoeker, en Delia neem ‘n risiko waarteen sy ‘n ruk lank al skop. Tonik se standaarde begin val, en ‘n verhouding word onthul. Conrad is oortuig Tertius en Tracy voer iets in die mou. Naomi bieg dat sy nie vir Louis wil verloor nie, en Dawid word ontbied wanneer ‘n klopjag by die oorplantingseenheid uitgevoer word.

Suidooster

‘n Donker wolk hang oor Siya en Danni se huwelik, want hulle sukkel om op dieselfde bladsy te kom oor hulle hunkering na nog ‘n kind. Dit lyk of die skrif aan die muur vir die verhouding is. Al uitkoms wat hulle sien, is egskeiding. Is dit die einde van die pad vir die Thuli’s, of gaan hulle ‘n laaste poging aanwend om hul huwelik te red?

Dit blyk dat Mymoena en Sammy meer as net vriende wil wees. Dit veroorsaak onmin in die Samsodien-gesin. Die vet is in die vuur wanneer Nazeem in Sammy se verlede begin krap en hy ‘n baie interessante ontdekking maak. Gaan Nazeem se ammunisie die doodskoot vir Sammy en Mymoena se verhouding wees?

Dit lyk of Tim se gekonkel om Bridgette ‘n rat voor die oë te draai vrugte begin afwerp, maar dalk het hy die kar voor die perde gespan. Daar is ook spanning in die Daniels-huishouding wanneer Ty vir Lee-Ann van ‘n nuwe affair beskuldig.

Ty se geliefdes en vriende is raadop met sy tekort aan selfbeheersing. Wys hy dalk vir die eerste keer sy ware kleure, of is daar ‘n ander rede vir sy buffelagtige optrede?

Dit gaan voor die wind met Wade en Angie wanneer hulle onverwags sterre op sosiale media raak. Maar met roem kom daar ook druk en natuurlik vang die hoogste bome die meeste wind.

Dit lyk of ‘n vernietigende stryd op die horison vir Ruiterbosch is wanneer Bridgette en haar familie skokkende nuus kry. Die duiwel is behoorlik los wanneer spoke uit die verlede begin loop.

Diepe Waters

In Maart word daar troue in Diepe waters gehou, maar daar moet nog baie struikelblokke oorkom word voor die groot dag kan aanbreek. Gaan Lettie en Henry se spesiale dag sonder teëspoed verloop?

Charity wil min met Felicity te doen hê. Dis duidelik dat daar iets uit haar verlede is wat sy vir almal wegsteek. Dis egter nie net Charity se verlede wat by haar kom spook nie – iemand anders maak ‘n onthulling wat meer as een persoon se lewe onherroeplik gaan verander.

Wegsteek is nie iets wat Dominee Ben wil doen nie. Hy en Sanet het weer liefde gevind, en hy is gereed om die nuus met die wêreld te deel. Mari tree egter, tot haar pa se ontsteltenis, steeds vyandig op. Sal sy bereid wees om die strydbyl ter wille van haar pa se geluk te begrawe?

Saterdagaand is fliekaand

Twee flieks maak hulle kykNET-debuut in Maart. Die een is ‘n riller wat kykers gaan laat naels kou, en die ander is ‘n nuwe komedie van Willie Esterhuizen.

Blindelings was een van die speelfilms wat by die Silwerskermsfees in 2023 gedebuteer en op 16 Maart om 20:00 word dit die eerste keer op kykNET uitgesaai.

René Scholtz (Donnalee Roberts) is ‘n briljante, blinde pianis met sinestesie. Sy “sien” unieke kleurkolle wanneer sy musiek, stemme en emosies beleef, maar ná ‘n aanranding op die aand van haar eerste solovertoning, onttrek sy heeltemal van die buitewêreld. Daar is ‘n eksperimentele operasie wat moontlik haar sig kan herstel, maar haar man, Paul (Jacques Bessenger), ‘n sukkelende eiendomsagent, het hulle spaargeld met kripto-beleggings verloor. Steyn Rademan (Wilhelm van der Walt) oorreed Paul om na die ontwikkelingsplanne op sy wildsplaas te kom kyk en daar ‘n gulde geleentheid te bespreek. René gaan saam en voel met die aankoms op die plaas dadelik iets onheilspellends aan. Wanneer Steyn ná ‘n jagtog sonder Paul terugkeer, moet René haar sinne tot die uiterste inspan om te oorleef.

Blindelings het verskeie Silwerskerm-benoemings gekry, onder meer vir Ivan Botha as beste regisseur, Donnalee as beste aktrise en Wilhelm as beste akteur. Dis ook as beste speelfilm benoem, en Tim Pringle het vir sy klankontwerp ‘n Silwerskerm-toekenning gewen.

Brakpan-bruilof, met Willie Esterhuizen as skrywer en regisseur, is die Storiefilm op 30 Maart om 20:00.

Aletta Vlok het ‘n ontembare troukoors. Sy het al drie keer vir Boer soek ‘n vrou en twee keer vir Op my eish! ingeskryf, maar sonder sukses. Op die oggend van haar 29ste verjaardag word sy wakker met ‘n knop op haar maag, want volgens haar het sy net nog ‘n jaar voor sy haar sell-by date bereik. Sy begin dus haar troue reël voor sy nog met die hulp van haar pa, haar vriendin Betsie se kêrel en pastoor Neville ‘n bruidegom begin soek. Boetie Bouwer, ‘n werktuigkundige, word oortuig dat hy die man vir Aletta is, en die groot dag breek aan. Maar dan loop alles verkeerd.

In die rolverdeling is Lara Lourens, Natania van Heerden, Louis Minnaar, Kaz McFadden, Ilke König, Stiaan Bruwer, Wynand van Vollenstee, Marno van der Merwe en Reginald Hufkie.

Hierdie reekse groet in Maart

Die Byl | Vyfde seisoen kom op 19 Maart tot ‘n spanningsvolle einde.

  • 5 Maart: Victor neem die finale stappe om sy perfekte kunswerk te voltooi. Mia ontvang ‘n boodskap vir Byl van ‘n boemelaar. Die inhoud laat hom besef die Nabootser is nader as wat hulle dink.
  • 12 Maart : Om die Nabootser te stop word ‘n wedloop teen tyd. Juan se vermoede dat die moordenaar dalk deel van die eenheid is, ontaard in ‘n kantoorbakleiery, terwyl Byl in ‘n lokval beland.
  • 19 Maart : Byl moet op sy span staatmaak om hom te red, maar hulle moet leidrade oplos en die nuutste Nabootser-slagoffer vind voor dit te laat is. Die moordenaar se finale pakkie het dodelike gevolge.

Op My Eish! | Finale episode word op 4 April uitgesaai. Gaan Brendan liefde vind?

Magda Louw en haar gesin | Groet op 25 Maart. In Maart kom kuier Erhard se broer, Ferdinand. Magda verloor iets kosbaars. Ferdinand probeer vir Erhard en Magda ‘n romantiese uitstappie reël, en Gertrude se kleinding word gedoop.

Donkerbos | Finale episode word op 10 Maart uitgesaai. Daar is hoop as jy weet waar om te kyk, maar gaan Fanie en haar span die moordenaar kan uitoorlê?

Laataand by Rian | Groet op 26 Maart, en die gewilde aktualiteitsprogram Wie’s nuus? se finale aflewering in die huidige seisoen is op 4 April.

Hoogtepunte op kykNET&kie

Marc se Komedie | Kom maak ‘n draai

Marc Lottering is ‘n Suid-Afrikaanse ikoon. Hy tree gereeld voor volgepakte sale op en het al bewys dat hy net so gemaklik is met stand-up-komedie as met die vertolking van die karakters wat hy geskep het. Een van hierdie karakters is die geliefde Aunty Merle, wat die hoofkarakter in drie van Marc se musiekblyspele is.

So I Wrote That Musical is Marc se splinternuwe eenmanvertoning waar hy vertel hoe hy beweeg tussen komediant voor ‘n mikrofoon en skrywer en speler in sy musiekblyspele. Sy eie lewe in Kaapstad en as Suid-Afrikaner is deel van hierdie skreeusnaakse produksie wat weer eens ‘n treffer was.

So I Wrote That Musical word op 31 Maart om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai.

Arendsvlei

Rachel en Adam keer terug na Arendsvlei met haar en Desmond se seuntjie, Canaan. Desmond het glad nie Rachel se aankoms verwag nie, maar Bompie is al te bly. Rachel is gereed om aan die werk te spring en sluit dadelik weer by die skool aan. Adam wil dinge regmaak met die mense in die gemeenskap, maar Bompie probeer alles in sy vermoë doen om vir Adam net daar by hulle te hou. Gaan Adam by die Galants bly, of gaan hy aanklop by die Cupido’s?

Met die nuus dat ‘n onderwyser Arendsvlei Hoër verlaat, moet die beheerraad gou spring om iemand aan te stel. Devon sluit by die personeel aan. Daar is egter gemengde gevoelens oor sy teenwoordigheid. Hy maak die dames se knieë lam, maar Lee-Roy val nie vir sy sjarme nie. As hy nie skepties is oor Devon se metodes van klasgee nie, raak hy gefrustreerd met sy inmengery. Wat gaan aan tussen dié twee?

Met Janice se geheue wat terug is, moet sy baie stukke optel – van haar huwelik met Lionel en die nuwe projek by die skool, tot Ayesha se dood. Janice probeer haar huwelik red, maar Lionel vind dit moeilik om hulle verhouding voort te sit. Janice vertel uiteindelik vir Beatrice van die IT-projek by die skool, maar is dit dalk te laat?

Visit the kykNET website to join the conversation on TwitterInstagramTikTok and Facebook.