Riaan Benadé terug met kragtige nuwe enkelsnit ‘Kattebak’
Riaan Benadé is terug in die kollig met sy splinternuwe enkelsnit, Kattebak – ‘n liedjie wat reeds voor sy debuutalbum, “Spontaan“, begin vorm aanneem het. Dié liedjie is oorspronklik deur Riaan en Georic Lomas geskryf, met die verse wat reeds voor die vrystelling van “Spontaan” ontstaan het.
“Ek het die verse al voor my eerste album geskryf en toe maak ons die liedjie klaar so twee jaar terug,” vertel Riaan.
Kattebak delf diep in die uitdagings van ‘n verhouding wat deur moeilike tye gaan. Tog dra die liedjie ‘n boodskap van hoop.
“Die doel van die liedjie is om iemand te herinner dat hulle al beter tye gehad het. En al gaan dit nie nou goed nie, sal dit beter raak as die paartjie kyk na wat hulle al deur is,” verduidelik hy.
Aan die klankfront wys Riaan ‘n nuwe, groter dimensie.
“Ek is baie opgewonde oor ‘Kattebak’ se klank. Dis so ‘n bietjie groter klank as wat ‘Spontaan’ was,” sê hy.
Met ‘n subtiele danselement verweef in die produksie, beloof dié liedjie ook om gehore aan die beweeg te kry.
“Mense gaan baie lekker op hierdie liedjie kan dans,” voeg hy by. “Ek dink as jy gehou het van my vorige musiek, gaan jy baie hou van hierdie liedjie.”
Die musiekvideo vir Kattebak spog met die talent van Kate Roothman, bekend vir haar rol in die gewilde kykNET-sepie Binnelanders. Kate het voorheen ook ‘n verskyning gemaak in Riaan se “Gooi My Nog ‘n Whiskey“-musiekvideo.
“Dit was so lekker om haar weer in ‘n musiekvideo te hê. Sy is ‘n ongelooflike aktrise,” sê Riaan.
Die video is op verskeie plekke in Pretoria verfilm deur Eric T Graham en Tehan Buys. Die span het reeds vroegoggend begin skiet.
“Ons was al half vier die oggend op stel gewees, en dan het ons die aand verder verfilm,” onthou Riaan.
‘n Besonderse hoogtepunt in die video is ‘n ikoniese BMW 325, wat deur sy vriend Corbêr Viljoen beskikbaar gestel is vir die opname.
“Dit was so snaaks. Ons moes ekstra sekuriteit reël vir die kar omdat dit so ‘n gewilde kar is om mee rond te ry,” lag hy.
Met Kattebak bevestig Riaan Benadé weer eens sy vermoë om eerlike stories met kommersiële aantrekkingskrag te kombineer – ‘n liedjie wat nie net die hart raak nie, maar ook die voete laat beweeg.
Kattebak is nou op alle digitale stroomdienste soos Appel Music, Spotify en Deezer beskikbaar hier.
Connect with Riaan Benadé on social media:
Facebook | Instagram | YouTube | TikTok