Ray Dylan raak harte met sy nuwe enkelsnit: “Net Die Vader Weet”
Bekroonde sanger en liedjieskrywer Ray Dylan is terug met ‘n splinternuwe Afrikaanse ballade wat diep emosies ontketen en die luisteraar laat nadink oor geloof, liefde en vergifnis. Sy jongste enkelsnit, Net Die Vader Weet, is ‘n eerlike en persoonlike weergawe van die temas wat Ray se loopbaan nog altyd gekenmerk het – rou emosie, egte storievertelling en musiek wat uit die hart kom.
Net Die Vader Weet is ‘n lied wat ontstaan het tydens ‘n tyd van besinning en aanvaarding. Ray verduidelik:
“Elke mens dra ‘n storie van verlies of iets wat onvoltooid voel. Hierdie lied het ontstaan in ‘n tyd waar ek baie oor die lewe, liefde en genade gedink het. Party goed verstaan jy eers baie later, en ander goed verstaan jy nooit nie — maar ek glo daar is altyd ‘n groter plan. Dis wat ‘Net die Vader weet’ vir my beteken.”
Met lirieke wat praat van verlange, vergifnis en liefde wat tyd trotseer, skep die lied ‘n universele boodskap wat by elke luisteraar aanklank vind. Ray beskryf dit as meer as net ‘n liefdesverhaal — dit is ook ‘n lied oor geloof, vrede en die krag van menslike verbondenheid.
Die snit dra die kenmerkende “klassieke Ray Dylan-klank” — ‘n moderne country-ballade met sterk kitaarwerk, warmte en melodieë wat nostalgie oproep. Ray het self die lied geskryf en saam met sy Vonk-span gewerk aan die opname. Die produksie is deur Loki Rothman behartig, terwyl Francois Viviers gehelp het met die stemopnames.
“Ek wou hê dit moes warm klink — soos iets wat jy saans luister saam met iemand wat vir jou belangrik is,” sê Ray.
Een van die mees aangrypende reëls uit die lied — “Dit was die moeite werd al die seerkry” — verteenwoordig Ray se siening van liefde wat volhard.
“Ware liefde is nie altyd maklik nie, maar dis altyd die moeite werd. As jy iets het wat regtig saak maak, moet jy dit nie laat gaan nie,” verduidelik hy.
Ray Dylan verklap dat Net Die Vader Weet deel is van ‘n groter musiekprojek, met ‘n nuwe Afrikaanse album wat binnekort bekend gemaak sal word. Hy is ook besig met beplannings vir nasionale vertonings in die komende jaar.
“Ek’s dankbaar vir my ondersteuners en vir my vrou wat altyd daar is agter die skerms. Aan die einde van die dag… net die Vader weet.”
Net Die Vader Weet is nou beskikbaar op alle digitale musiekplatforms, insluitend Spotify, Apple Music, YouTube Music en meer.
Volg Ray Dylan op sociale media:
Facebook | Instagram | Website