Pieter Pruis stel sy debuut enkelsnit “Dis Net Jy” vry

Die Afrikaanse musiekbedryf het ‘n nuwe stem gekry met Pieter Pruis, ook bekend as die Benoni Baby, wat sy debuut enkelsnit Dis Net Jy bekend gestel het. Dis Net Jy‘ is ‘n tong-in-die-kies poptreffer wat ‘n ware storie van jong liefde op ‘n humoristiese wyse deel.

Dis Net Jy gaan oor ‘n paartjie wat uit twee verskillende werelde kom en is gebasseer op werklike gebeure —  ‘n naweek op ‘n plaas, stywe jeans, en die eerste ontmoeting met ‘n streng pa wat nie maklik beïndruk word nie.

“Ek het met ‘n meisie begin uitgaan, en haar pa was ‘n boer,” vertel Pieter. “Hulle het nie veel met my gepraat nie, en ek het toe daai naweek begin skryf aan die song.”

Die eind-produk is ‘n aansteeklike en eerlike Suid-Afrikaanse lied — met verwysings na Hilux-bakkies, John Deere-trekkers en plaasstof — wat die gevoel van ons Afrikaanse kultuur en humor vasvang.

“As ek dink aan Afrikaans en ons kultuur, staan daardie konsepte uit,” sê Pieter. “Ek wou daardie energie in musiek vasvang, veral omdat ek self van die stad af is.”

Die lied is vervaardig deur Tertius Human van Laughing Lamp Studios, wat volgens Pieter “die storie lewe gegee het en die lyn van eerlikheid en humor behou het.” Dis Net Jy‘ is ‘n kommersiële pop-sokkie tune wat ewe gemaklik op ‘n dansvloer of op die langpad speel.

Met aansteeklike kitaarwerk en ‘n refrein wat niemand kan vergeet nie, beskryf Pieter die klank as iets wat mense laat kuier, dans en glimlag.

“Ek wil hê mense moet lag vir die storie en sommer wil beweeg as hulle dit hoor,” sê hy.

Dis Net Jy is meer as net ‘n lekker lied — dit weerspieël Pieter se opregte passie om stories te vertel deur sy musiek.

“Ek vat ware stories en sit dit in musiekvorm — dis waar my hart lê,” verduidelik hy. Die lirieke “Dis net jy, jy, jy…” kom uit ‘n plek van jong liefde en eerlike verlange: “Ek was smoorverlief en wou net wys hoe baie sy vir my beteken.”

Gebore en grootgemaak in Benoni, beskryf Pieter homself as ‘n gewone ou met ‘n liefde vir visvang, quad bikes, en eerlike musiek. Sy musikale reis het op laerskool begin toe ‘n kooronderwyser hom oortuig het om te sing — en vandag is hy op pad om een van die mees belowende nuwe name in Afrikaanse musiek te word.

Hy het reeds groot aandag op TikTok gekry met meer as 72,000 kyke op sy eerste video, en reaksies van groot name soos Elandré, Brendan Peyper, Gian Groen, Juan Boucher en Nicholis Louw. Hierdie aandag het gelei tot ‘n platemaatskappykontrak met CoolerBox Records — en nou is Pieter gereed om die verhoog aan te vat met sy eerste Kaap-toer en optredes in Johannesburg en Pretoria later vanjaar.

Volg Pieter Pruis op sosiale media:
Facebook | Instagram | TikTok

Share your Reaction!
+1
0
+1
0
+1
0
+1
0
+1
0
+1
0
+1
0