Neil Nachtrein laat luisteraars asem skep met sy nuwe enkelsnit
Met sy nuutste enkelsnit, Asem In, neem die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Neil Nachtrein luisteraars op ‘n diep, rou en spirituele reis – ‘n lied wat voel soos ‘n gebed, ‘n bekentenis en ‘n worsteling in een asemteug.
Die lied begin met die treffende beeld “lei my saggies na die water en drink uit die verlede” – woorde wat vir Neil die noodsaaklikheid van terugkyk en selfondersoek vasvang. Hy verduidelik dat die verlede dikwels dien as ‘n bron van sowel pyn as genesing, en dat dit ons vorm op maniere waarvan ons nie altyd bewus is nie. “Ons moet soms ons verlede ontleed om sin te maak van hoe ons die lewe vandag hanteer,” sê hy. Die beeld van “bakhand op my knieë” weerspieël ook ‘n gevoel van dankbaarheid vir alles wat was – goed én sleg.
Hoewel Asem In oorspronklik as temalied vir ‘n rolprent geskryf is, het dit ontwikkel tot iets baie meer persoonliks. Die refrein se beeld van “ek hang hier aan ‘n asemteug” het ontstaan uit Neil se oorpeinsing oor broosheid, oorlewing en oorgawe. Die aanvanklike konsep het die storie vertel van ‘n karakter op die rand van selfdood, en die intense gevoel van benoudheid het Neil laat dink aan die oomblikke wanneer ‘n mens letterlik en figuurlik nie kan asemhaal nie. “Die enigste manier om aan jouself te sterf en steeds te lewe, is om jou lewe vir die Skepper te gee,” verduidelik hy. Die lied draai dus om die besluit: klou jy nog vas aan die seer van die verlede – of gee jy alles oor en vind jy die vrede wat alle verstand te bowe gaan?
Die rou reël “dit sit soos ‘n hammer op jou bors en druk die lewe uit jou uit” spreek direk tot gevoelens van angs en onderdrukte emosies. Neil glo luisteraars sal hul eie kwesbaarheid hierin herken. “Soms vat dit iemand anders om die hammer op jou bors uit te wys voordat jy besef dit’s daar,” sê hy.
Vir Neil was dit ook nuwe terrein om sy emosies so direk te formuleer. Hy erken dat hy dikwels sy kwesbaarheid agter metafore wegsteek, maar dat hy in Asem In doelbewus die rou eerlikheid gekies het. “Dit is goed om aan jouself te erken dat jy hulpeloos mag wees,” sê hy.
Die lied dra ook ‘n sterk geestelike ondertoon, veral in die tweede vers waar hy sing “waar sal my hulp vandaan kom” en “nie myne nie maar joune.” Geloof vorm ‘n onvermydelike deel van Neil se identiteit en kreatiewe proses. Die beeldspraak van “kniediep in die water” en “my oë na die berge rig” dui vir hom op hoop én die soeke na iets groter as ons eie vermoëns.
Herhaling speel ‘n sleutelrol in die lied, met frases soos “talm oor en oor” wat doelbewus die gevoel van besluiteloosheid en innerlike stoei onderstreep. Dit weerspieël ook subtiel dat die Here nie net een keer aan jou hart klop nie – maar weer, en weer.
Die spanningslyn deur die lied bou stadig op, met voller instrumentasie, meer dringendheid en ryk harmonië wat die emosionele reis versterk. Teen die einde bly daar vir die luisteraar ‘n gevoel van vrede hang – die soort vrede wat Neil hoop die lied sal in ander ontketen.
Wanneer gevra word om die hart van die lied in een sin saam te vat, haal Neil Mattheus 16:25 aan:
“Wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.”
Met Asem In herinner Neil Nachtrein ons dat oorgawe nie ‘n nederlaag is nie, maar ‘n bevryding – en dat asemhaal soms die dapperste ding is wat ‘n mens kan doen.