Jan Rhaap Se Nuwe Enkelsnit “Miena” – ‘N Tydlose Ode Aan Onvoorwaardelike Liefde

Met sy nuwe enkelsnit Miena bring Jan Rhaap ‘n lied na vore wat diep uit die hart kom en tog ruimte laat vir elke luisteraar se eie storie. Dit is ‘n warm, eerlike lied oor veiligheid, leiding en die soort liefde wat jou hand vashou wanneer jy onseker is – ongeag wie daardie persoon in jou lewe mag wees.

Die oorsprong van Miena lê in ‘n persoonlike oomblik, geïnspireer deur Jan se dogtertjie wat haar ouer boetie, Chris-John, van kleins af Miena genoem het.

“Ons weet tot vandag toe nog nie hoekom nie,” vertel Jan. “Maar daardie naam het iets besonders begin verteenwoordig – iets sag, iets beskermend.”

Hoewel die lied uit ‘n intieme, gesins oomblik begin is, is Miena nie beperk tot een verhouding of persoon nie.

“In my dogtertjie se geval is ‘Miena’ haar boetie,” sê Jan, “maar vir die res van die land kan dit enige iemand wees. Dis daardie persoon wat jy vertrou, wat jou lei, wat altyd jou beste op die hart dra.”

Die lirieke van Miena dra sterk temas van leer, groei en vertroue. Dit reflekteer die menslike behoefte aan iemand wat jou wys waar om veilig te trap, wat saam met jou deur moeilike paaie stap en jou help om hoop in die verte raak te sien.

“Ons almal smag na onvoorwaardelike liefde,” verduidelik Jan. “Of dit nou jou lewensmaat, ‘n ouer, ‘n vriend of mentor is – ons almal wil ‘n ‘Miena’ hê in ons lewe.”

‘n Besonder kragtige oomblik in die lied is die reël “Ek sien Jesus in jou“. Vir Jan gaan dit oor die suiwerheid van liefde. “Wanneer liefde opreg en eerlik is, sonder bybedoelings, dan weerspieël dit vir my iets van Jesus se liefde.”

Musikaal bly Miena getrou aan Jan Rhaap se gevestigde klank en styl. Die produksie is doelbewus eenvoudig en intiem, met die fokus stewig op die lirieke en emosie.

“Die lied is eerlik en reg uit my hart,” sê hy. “Ons wou hê niks moet die boodskap oorheers nie.”

Met Miena hoop Jan dat luisteraars ‘n oomblik sal neem om stil te raak en waardering te voel.

“As mense iets moet wegneem van hierdie lied,” sê hy, “dan is dit dankbaarheid en liefde – en om die onvoorwaardelike liefde in jou lewe raak te sien en te waardeer.”

Miena is ‘n lied wat nie voorskryf wie jou ‘Miena‘ moet wees nie, maar eerder elke luisteraar nooi om self daardie persoon te herken – en dankbaar te wees dat hulle bestaan.

Connect with Jan Rhaap on social media:
Facebook | Instagram | Twitter

Share your Reaction!
+1
0
+1
0
+1
0
+1
0
+1
0
+1
0
+1
0