Hendré Baard wys sy pad met nuwe enkelsnit Wys Vir My die Lyn

Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Hendré Baard is terug met ‘n rou, eerlike en sielvolle nuwe enkelsnit getiteld Wys Vir My die Lyn – ‘n blues-rock lied wat diep delf in die temas van geloof, rigting en selfsoektog op die oop pad van die lewe.

Na maande van toere en lang ure op die pad, het Hendré inspirasie gekry om Wys Vir My die Lyn te skryf.

“Die lang toere en lewe op die pad het my laat dink oor hoe maklik ‘n mens kan voel jy raak weg in jou eie reis,” sê Hendré. “Die lied is beide ‘n geestelike én emosionele reis – dis oor daardie soeke na hoop, rigting en geloof.”

In die refrein sing Hendré: “Ooh die Here hoor my, ek vra jou raad.”

Vir hom is dit nie net lirieke nie, maar ‘n werklike uitroep.

“Geloof speel altyd ‘n rol in my musiek. Wanneer ek nie weet wat om te doen nie, is my eerste aksie om na die Here te roep,” vertel hy.

Die lied skets beelde van padlewe – die klank van brieke, ‘n bus wat moet stop, en petrol wat opraak.

“Gewoonlik as ‘n mens moet brieke trap, is dit vir ‘n insident wat jy kan sien aankom. Dis soos die lewe – soms moet jy stilhou, rus, en weer jou lyn soek,” verduidelik hy.

Hierdie “lyn” simboliseer vir Hendré hoop, rigting en geloof – iets waarna ons almal soms opnuut moet kyk wanneer dit voel asof dit “verdwyn het.”

Met reëls soos “En my girl is kwaad want ek gaan slaap te laat“, bring Hendré ‘n menslike eerlikheid na vore.

“Ek dink baie mense sal hulleself herken – veral jong mense wat probeer om hulle pad in die lewe te vind. Dis maklik om te voel jy verloor jou lyn,” sê hy met ‘n glimlag.

Wys Vir My die Lyn is ‘n blues rock-snit wat rou emosie met eg Suid-Afrikaanse tekstuur meng.

Hendré het die lied self geskryf en opgeneem by Tertuis Human, met Rudi Kleingeld op kitaar.

“Ek het baie blues-licks gebruik – ek wou hê die musiek moes die moegheid, verlange en eerlikheid van die lirieke dra,” sê hy.

Die melodie het eerste gekom, en uit dit het die lirieke natuurlik begin vloei.

“Ek het my lyn al gevind,” sê Hendré laggend, “maar hy’s nog bietjie kronkel!”

Hy beplan om Wys Vir My die Lyn deel te maak van ‘n volledige album wat in 2026 uitgereik sal word

Share your Reaction!
+1
0
+1
0
+1
0
+1
0
+1
0
+1
0
+1
0