Gerhard Steyn en Liezel Pieters is terug met nóg ‘n duet!
Ná die enorme sukses van “Sterre“, die treffende duet wat landwyd harte gewen het, is Gerhard Steyn en Liezel Pieters terug met nóg ‘n voelgoed dans en kuierliedjie – Karolientjie.
Waar “Sterre” ‘n interpolasie was van Bles Bridges se geliefde “Ek Reik Na Die Sterre” – met ‘n koor wat die oorspronklike melodie behou het, maar nuwe verse en ‘n nuwe melodie deur Gerhard self – staan Karolientjie heeltemal op eie bene. Hierdie keer is die liedjie van begin tot einde splinternuut: ‘n vars melodie én oorspronklike lirieke, alles uit Gerhard se pen.
Gerhard vertel dat Karolientjie presies die tipe liedjie is waarvoor Suid-Afrikaners in Desember lus is: lig, vrolik, dansbaar en perfek vir vakansiedae, braais en kuierplekke.
“Dis ‘n liedjie wat ek glo jy hierdie Desember sommer oral gaan hoor,” sê hy met ‘n glimlag.
Met twee van die land se mees geliefde stemme saam op een snit, is Karolientjie gereed om die volgende groot feestydtreffer te word – en om hierdie Desember nóg vroliker te maak.
Karolientjie is nou op alle digitale stroomdienste soos Appel Music, Spotify en Deezer beskikbaar. Kry dit hier.